“TANNEMUIS”

Toe Laatlam op ongeveer agt maande sy eerste tandjie sny, was ons natuurlik baie opgewonde oor die jeuglike gebeurtenis. Soos dinge egter maar altyd met Laatlam gaan, verloop ook hierdie ontwikkelingsfase op sy eiesoortige manier. Die man sny toe mos sy vier oogtande eerste! Klem die bottel se speen soos ‘n klem-in-die-kaak geval in die opening tussen die vier tande vas en daar gaan hy – bottel al swaaiende voor hom uit. Sou die mannetjie jou vereer met ‘n glimlag – wel……. moontlik Dracula se nasaat?

Gelukkig verloop die verwisseling daarvan darem redelik normaal.

Laatlam is nogal kleinserig, daarom het hy vanaf ‘n redelike jong ouderdom self begin om sy tande te trek – ja, sowaar! Staan vir ure voor die spieël met ‘n tandeflos toutjie en sukkel en siedaar – ‘n tandarts in wording. (Heeltemal nodeloos om te sê dat hy op hierdie stadium van sy lewe ‘n tandarts wil word.) Die hele brawe senario verander natuurlik heeltemal sodra die man bloed sien, want waar bloed is moet daar noodwendig pyn wees en dan word daar geSSSSSSHHHH, geEEEEEIIIIIIISSSSHHHH, gekners en simpatie gesoek tot sy aandag weer op iets anders gevestig word, maar dit duur nogal ‘n tydjie. Op diè foto sit hy tand in die hand die gat en beskou.

Tandarts Xander beskou sy \

Deur al die kinders heen het ons met Laatlam nou al die kuns van die tandemuis-storie vervolmaak. Hy doen natuurlik op sy hardste noot die “MUIS! MUIS! GEE MY ‘N BEENTAND VIR ‘N STEENTAND!”-storie, sit die steentand in in skoen of iets dergliks en spring baie opgewonde en hoopvol in die kooi. Slaap kom nie gou nie want die man is nuuskierig – sal dit ‘n arm of ‘n ryk muis wees? (Siestog, sy ma hou nie ryk muise op die erf aan nie!) Nietemin, die hoop beskaam nooit.

As die “muis” onthou – baie “vergeettyd” kan verloop tussen Laatlam se opdrag en die “muis” se slaaptyd en Beterhelfte help ook nie veel nie – strooi sy ‘n spoortjie babapoeier vanaf die skoen, by die kamer se deur uit, in die gang af en by die voordeur uit. Daarna druk die “muis” fyn muisspoortjies in die “meel” wat die muis dan kwansuis verloor het (was seker ‘n gaatjie in die sak wat hy by hom gehad het) met oorstokkies. Vervolgens bekyk die “muis” haar skatkis om te bepaal of sy daardie aand ‘n arm of ‘n ryker muis is en verruil die tandjie vir die skat. Die vreugde is die volgende oggend groter oor die muisspore as oor die geldjie. Ek het al opdrag ontvang om dit nie skoon te maak nie want hy wil vir sy maatjies wys. Hulle tannemuise het nog nooit werklike spore gelaat nie! O-ja, ge-oeste tande word vir hersirkulering weggebêre – moes al twee maal tot die redding kom wanneer Laatlam sy nuut getrekte tand per ongeluk weggespeel. Kwansuis het Ma hom êrens opgetel en genadiglik op die wyse ‘n miniatuur revolusie afgewend!

So kom Laatlam een middag van die skool af en vertel van ‘n maatjie wat haar tand in haar pa se skoen gesit het en tagtig rand daarvoor gekry het. Hy was heilig oortuig daarvan dat dit iets met die skoen se grootte te make het en gaan grou onmiddellik een van sy pa se tekkies uit. Daar was ‘n los kiestand in sy mond en ons jong tandards was vurig aan die wikkel voor die spieël tot die tand uit is. Die hele “MUIS, MUIS….”-roetine is daardie aand met groot ywer herhaal (mens se oordromme hou dit beswaarlik, want hoe groter die kind hoe harder die stem!) Maar aaaaaai, toe vergeet die muis mos van haar taak…. Beterhelfte onthou die volgende oggend van die gedoente, maar helaas te laat – Laatlam was wakker en het reeds die fonds van ‘n tand-en -geen-skat in sy pa se tekkie gevind! Gelukkig het die bure se honde – en gevolglik ons s’n ook – deur die nag vreeslik geblaf en kon Ma aan ‘n power verskoning dink oor waarom die muis dalk te bang was om in te kom……

Laatlam se tand lê nou nog in sy bedkassie se laai. Hy is so vies vir daardie verdomde Tannemuis dat hy nog nie eers weer probeer roep het nie! ☺

Advertisements

13 Responses

  1. Jou laatlam is te oulik, die eerste foto veral, kyk hoe vriendelik lag hy vir my. Ek het die tandmuis storie baie geniet!!

  2. Von

    Kan ek jou dalk oortuig om die inlog to comment deel aftehaal? Dit is ‘n storie en ‘n half om eers in te log. Dan vergeet ek amper wat ek wil se.

    Ek het as kind ook al geskimp dat die muis my ‘n verhoging gee. Dit het nogal gewerk, maar R80??? Wat betaal die muis deesdae? My muis het 50c gegee, hy was ryker as my neef se muis wat net 20c gegee het.

    Ek was nogal ‘n pissie waar dit my tande aangegaan het. Daar was net een tannie wat ek vertrou het om my tande te trek en my ma moes al baie oor ‘n 100km ry sodat sy die takie kon verrig. Niemand anders mag aan my tand geraak het nie.

  3. Ag ek mis my Skapie nou verskriklik!!!!!!!!!!!!!!! Ek mis ook omtrent alles deesdae. Sy Tannie sal vir hom ‘n geldjie stuur vir daai bleddie tand… Ons sê dan sommer Tanniemuis.
    O ja…. Whêlakepêla!!!! Ek het die koolstoof aangesteek, die huis is heerlik warm!!!!

  4. 😆 Laatlam laat hom nie rond neuk nie!

    Ek voel baie sleg. Ek het vanmôre deur die slaap die geld in my oudste se skoen gaan sit, maar ek het SKOON VERGEET om die tand uit te haal. Nou wil my kind weet hoekom het die tandmuis nie sy tand gevat nie. Is daar dan fout met sy tand?! Eish. Al wat ek aan kon dink was om te sê dalk was hy die laaste stop en die muis het te veel gehad om te dra…

  5. Adriana, ek sal PROBEER – sukkel nog met al die goete!

    Pikkie – vryf dit nou in – het nie eers ‘n gaatjie vir ‘n Jetmaster nie, die gasverwarmer het nog nie gas nie en met al hierdie loadshedding dink ek ons beste bet is ‘n warm bad en die kooi. Lyk soos regte sneeuweer hier by ons. Wat se gemissery is dit met jou deesdae?

  6. Hi Von, ek wonder nou net, is jou laatlam nie so bietjie hiper slim nie…. ek het ‘n storie hoor fluit dat kleintjies wat eerste oogtande sny baie slim is. My kleinding het ook eerste die oogtande gesny en dit sal nou vir my interessant wees om te hoor of die storie waar is.

    Ag maar hy het te cute gelyk hoor!

  7. Zee, laat ek jou maar vertel, Von is heeltemal te beskeie om dit te doen, maar daai oukie is bleddddddddieee slim. Een toekening na ‘n ander, een sertifikaat na ‘n ander, en dan is hy nog so goed is sport ook! (Dan is hy nog lief vir my ook!)

  8. Hi Zee, eerste maal dat ek van die oogtande/hiper slim storie hoor. Mag dalk waar wees. Laatlam moes nog altyd baie stimulasie kry, is BAIE skerp en (wonder bo wonder!) baie lief vir skool.

    Het tydens swangerskap altyd gebid vir enetjie wat tog net nie weer so lui vir skoolwerk is soos sy een ouboet nie (diè se boudvelle hang nou nog êrens aan matriek se draad). Gedink die baie breinselle is maar as gevolg van die “oorskop-drie in beseringstyd”-storie wat mens altyd hoor – so al of jou laaste oemf daaragter sit.

    Eintlik dink ek dis maar ‘n bietjie genade van Bo.

  9. Hi Pikkewyn, ons sportman is ‘n bietjie oorgewig (soos sy ma) maar ons werk daaraan. Hy het nie so lekker stamina op die oomblik nie.

    Hy speel tans meestal reserve vir sy span. Dit is ‘n baie teer puntjie vir beide hom en Beterhelfte en was dalk net die aansporing wat hy nodig gehad het – kon nie glo hy is vir een keer in sy lewe nie goed genoeg nie. (Dink nogal dit bring hom bietjie terug aarde toe.) Moet darem sê hy is glad nie ‘n kortafstand atleet nie – hardloop soos ‘n ryer!

  10. Ek het die stuk nou regtig baie geniet. In jare het ek nie aan die tandemuis gedink nie. En danksy jou het ek weer onthou van sy eerste besoek aan my!

  11. Wonder net wat die klein knaap se van is. Van my kinders het ook so tande gekry en hulle van is van Beek

  12. Hi Celsete – welkom hier by my Beek – dis egter maar net my blog se naam – ons van is Venter. Al ons ander kinders het op die normale manier tande gekry – Laatlam is altyd op sy eie misie.


  13. ++++++++++++++++++++++++++++++++++++++
    ++++++++++++++++++++++++++++++++++++++

    IF YOU NEED A BLOG, DONT FORGET TO SEE WEBSITE “Leoxa.com”
    (The Themes Is Very-very Beautiful & Also Able To Place Adsense)

    ++++++++++++++++++++++++++++++++++++++
    ++++++++++++++++++++++++++++++++++++++

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: