WOORDBEELD VIR ‘N ENKELING

Ek was onlangs by ‘n broer van my ma se begrafnis. Hy was die vierde oudste kind uit ‘n kindertal van dertien en die eerste een wat die tydelike met die ewige verwissel het.

Die familie is groot en almal woon wyd uitmekaar. Ek moet tot my spyt erken dat ek hom glad nie goed geken het nie en dit nou – nadat dit te laat is – bitter graag anders sou wou gehad het. Julle ken mos diè clichè.

As ‘n jong seuntjie – gedurende die oorlogsjare toe my oupa sy deel vir ander volke en vaderlande in Egipte gaan doen het – het hy homself die rol as my ouma se “beskermer” toegeëien. Hy het haar opgepas en aan haar sy gebly tot sy saans gaan slaap het.

Hy het van kindsbeen af ‘n ernstige spraakprobleem gehad. Hy het gehakkel tot ‘n erge graad en moes die gepaardgaande spot uit menige onbesonne persoon se mond verduur.

Toe hy na skool moes begin werk, is hy oral weggewys as gevolg van sy spraakprobleem (al of dit jou werksvermoë of inteligensie aantas!). Selfs vir werke waar mens omtrent nie nodig gehad het om te praat nie, was hy nie geskik gevind nie. Gevolglik het Alwyn vir jare vir my oupa op die plaas gewerk. Hy het latere jare – met sy pa se hulp – sy eie plasie gekoop en nadat my oupa oorlede is uiteindelik werk gekry in die privaatsektor.

Gedurende die week het hy saam met ‘n werkspan oraloor boorgate gesink en moes gevolglik sy plaas weekliks alleenlaat. Wanneer hy oor naweke tuis was, moes hy ruite en deure herstel na die herhaalde plundery wat in sy afwesigheid plaasgevind het. Hy is rot en kaal besteel. Later was daar nie eers meer ‘n pomp by die windpomp nie en moes hy water vir persoonlike gebruik vanaf ‘n buurplaas aanry. Hy het later ‘n versterkte deur by ‘n buitegebou aangebring waar hy sy laaste paar waardevolle/sentimentele besittings telkens gaan wegbêre het voor hy weer die pad moes vat vir sy werk. Sy totale huisraad het teen die einde van sy lewe uit ‘n mat en ‘n bed bestaan. Hy was ‘n harde werker, maar ten spyte daarvan, ‘n sukkelaar. Hy het vanaf geboorte ‘n baie klipperige, opdraande lewenspad gehad om te stap.

Hoewel hy altyd ‘n baie aantreklike man was, het hy nooit getrou nie en het geen kinders gehad nie. Hy is op 63 (en stokgatsiel alleen) aan ‘n hartaanval in sy verwaarloosde, leë huisie oorlede waar ‘n buurman hom die volgende oggend gevind het.

My onthou bestaan slegs uit die beeld van ‘n aantreklike, saggeaarde man wat altyd ‘n sneeuwit hemp en  jeans gedra het, altyd kaalvoet geloop het en op sy hakkelende, min woorde-wyse altyd ‘n kompliment kon uiter. Tydens sy begrafnis het ek baie oor hom uitgevra by sy medewerkers:   hy het “‘n hart van goud” gehad;  het mense finansieël gehelp met groot bedrae geld wat hy onvoorwaardelik gegee het – sy gevoel was dat hy alleen was en net homself gehad het om te versorg, terwyl die ander party/e moontlik afhanklikes gehad het wat versorg moes word.  Sy medewerkers was baie lief vir hom. Hy het min, maar opregte vriende gehad.  Hy was ‘n uiters goeie luisteraar wat altyd reageer het met “dit mag so wees, ja”. Hy was erg ingestel op vloeklose taalgebruik en die mooier, skoner dinge van die lewe. Hy het na aan die natuur geleef.   Hy was lief vir ‘n sopie, mal oor wilde weste verhale en het baie gelees. 

Hy was volgens familie en vriende die stilste, eensaamste mens wat hul ooit teëgekom het en het ‘n kluisenaarsbestaan gevoer.  Tog kon hy die eensaamheid nie meer verduur nie en was bang vir sy aftrede wat nader gesluip het.

Hoewel ek besef dat sy stille eensaamheid nou uiteindelik volkome is, kan ek nie help om oor sy eiesoortige lewe te peins en ‘n diepe deernis vir ‘n werklike enkelingmens te ervaar nie. Ek het sy plaas besoek en sy verwaarloosde nalatenskap op film probeer vasvang om sy eie storie te vertel.

Die meeste van ons is so vreeslik toegewikkel in ons besige, gejaagde lewens. Dis werks-, kinder-, familie-, vriende- en omgewingsverwante verpligtinge van vroeg tot laat – week in en week uit. Vir ons is vyf minute vrede ‘n kosbaarheid. Alwyn se bestaanswyse is byna ondenkbaar.

Sy totale eensaamheid tydens sy dood is vir my incomprehandable – so sonder kind of kraai wat vir jou lief is, omgee en vir jou daar is tydens jou nood, dood – en dalk die moontlike vrees vir dit (die bekende of onbekende?) wat voorlê. Tog is dit die tyd van ontmoeting met jou Heiland waarmee niemand jou kan bystaan nie. Dis net jy en die Here alleen…. en dan die wonderlike vooruitsig dat jou lewe volkome en heel anderkant wag!

Wat ‘n wonderlike vooruitsig en verlossing!

Advertisements

3 Responses

  1. Alwyn lyk vir my na ‘n heilige. Leef self in armoede, maar gee alles wat hy het vir ander. Ek is seker hy kon die groot bedrae vir homself aangewend het, maar hy was onselfsugtig. Ander mense het beter af geleef danksy hom. Ek is seker hy is in die hemel.

  2. Dit is pragtig beskryf. Eintlik ‘n ongelooflike hartseer storie. 😦

  3. Shoe dit is die mooiste mooiste woorde, kosbare vroutjie.
    WAt n groot voorreg dat ons hierie woorde n n verhaal met jou kan deel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: