My liewe Mams
Vandag – net so kort voor Moedersdag – het ons Mams se S-E-W-E-N-T-I-G-S-T-E verjaarsdag gevier! Die sewentig kersies was nog nie eers almal aangesteek nie, toe moet ons al byna die Brandweer skakel vir die vreeslike vlam wat die lot brandende kersies tot gevolg gehad het!
Gelukkig
is die asem nog lekker sterk en laaaaaank en was die hele vuur met een blaas geblus – dit wil gedoen word, hoor!
Hene Mam, ek kan nie glo dat Mams al by sewentig trek in die lewe nie – die tyd vlieg net te vinnig – en juis dit het my baie diep laat nadink.
Met hierdie besonderse groot geleentheid wil ek uit die diepte van my harte vir so baie dinge baie dankie se. Dinge wat ongemerk in die daaglikse sleur verbygaan, maar tog so ‘n blywende deel van ons elkeen se hele bestaan uitmaak, dat ons dit nie kan misken nie – die rol van ‘n Mammie in ons elkeen se lewe.
Eerstens, dankie aan ons Hemelse Vader wat Ma reeds vir 70 jaar vir ons gespaar het. Ons bid dat Mams nog vir baie jare in goeie gesondheid ons lewens met ons sal deel.
Tweedens dankie dat Ma lief was vir ons Pa en dat ons Pa lief kon wees vir Mams – deur goeie en minder goeie tye – vir ‘n liefde wat vir ons ‘n tasbare ervaring was, jul mooi gesindheid teenoor mekaar en die voorbeeld wat dit vir ons gestel het van hoe ‘n liefdevolle huweliksverhouding kan en moet wees. Dankie dat jy altyd netjies en goedversorg was wanneer hy smiddae tuis gekom het na ‘n dag se harde werk. Ek weet ons huis was vir hom ‘n hawe, ‘n liefdevolle tuiskomplek.
Dankie dat Ma ons, Ma se kinders, in gebed aan die Here opgedra het – van geboorte af en steeds – vir die eerste gebedjie wat ons aan Mams se knie geleer het en vir ons eerste bekendstelling aan Jesus se groot liefde vir ons. Dit was Lewegewende saad waarmee ons self kon voortwoekker op vrugbare, voorbereide grond.
Dankie vir al die jare se liefde en toewyding aan Mams se gesin: elke vuil babadoek wat geruil is; elke drukkie; elke soentjie; elke pleister; elke wakker nag langs ‘n siek kind se bed of opwag wanneer ‘n kind moes tuiskom. Dankie vir elke dik lip, gier en gril van elke kind; elke tiener/volwasse “grootbek”, beterweterigheid en houding wat Mams moes en steeds soms moet verduur; elke bordjie kos; elke kospakkie skool toe; elke heerlike tuisgebakte koekie; elke handgemaakte en -herstelde kledingstuk; elke liefdevolle steek met die breipenne wat ontelbare vormlose bolle wol in pragtruie omskep het (sjoe, en daar was baie!); elke gehekelde lappie – dat ons moederliefde kon ervaar van ‘n vrou wat baie liefde gehad het – en steeds het – om te gee. Dankie dat Mams altyd vir ons daar was – en steeds is –wanneer ons op Mams se knoppie druk. Dankie dat Ma vir ons die goeie rolmodel was van wat en hoe ‘n deugsame vrou en ma in haar huis behoort te wees.
Dankie dat ons huis altyd ‘n gesellige tuiste was; dat gaste altyd welkom gevoel het en ons voordeur maar kon platloop. Dankie vir die gemeensaamheid en samesyn wat ons as gesin gehad het. Dankie vir elke speletjie wat ons as gesin saam gespeel het. Vir die skoling van “vele hande, ligte werk” – dat ons van kleins af verantwoordelikheidsin geleer is. Een van my gunsteling kleintyd herinneringe is waar Pa saans sit en trekklavier speel terwyl ons twee die skottelgoed was.
Dankie dat ons geleer is om respek te he vir ander volke en hul kulture, dat daar in ons ‘n bewustheid, verantwoordelikheidsin en liefde gekweek is vir diere en die natuur.
Dankie dat Ma nie alleen lief is en omgee vir Ma se eie kinders nie, maar ook Ma se kleinkinders en klein Shani. Dankie vir elke gedagte, elke gebed en elke bekommernis (aaaai, en soms pure verniet!). Dankie dat Mams maar altyd daar was, selfs wanneer ons so in ons eie pyn en hartseer toegewikkel was dat ons nie kon besef dat Mams ook maar saam met ons deur dieselfde pyn en hartseer gaan nie. Net moederliefde kan al hierdie dinge regverdig.
Ek besef so absoluut – hoe ouer ek word en hoe ouer my eie kinders word – dat ‘n ma se liefde nooit taan nie, dat besorgdheid oor jou kinders se welstand nooit verwelk nie, dat ‘n mens elke hartseer en elke vreugde net so intens met hulle deel as toe hul klein, afhanklik en onder jou vlerk was. Dat dit jou eie lewe noodwendig affekteer wanneer jou kind ondelukkig is. Dat dit omtrent die moeilikste ding op aarde is om slegs ‘n toeskouer te moet wees in ‘n volwasse kind se lewe – lynreg teen Moederinstink se natuur. Dat jy met alle mag in jou hulle steeds sou wil beskerm teen die groot seerkry van die lewe – as jy maar net kon. Dat Moederliefde nooit verander nie – net kinders verander want hulle word groot en onafhanklik. Vir al die kere wat ek Mams se besorgdheid in die verkeerde lig gesien het, vra ek om verskoning – ek verstaan dit nou. Ma se kinders sal ons bly tot die dood ons eendag skei (en ons is al mooi groot, hoor!)
My liewe Ma, mag die jare vorentoe vir Mams mooi, geseende, liefdevolle en rustige jare wees. Mag rede tot kommer oor Ma se kinders absoluut minimaal wees. Mag Mams uitbundig en voluit lewe. Mag die goue jare wat vir Ma voorle vir Mams ware goue ervaringshjare wees.
Life begins at ………. 70? - wow – go Girl – make the most of it!!
Al my liefde
Von